Week van Gebed 2022

Vir oorlewing, bid die Psalms!

Laai PDF af

Voorwoord

CLF het pastor Felix Meylahn van die Friedenskirche Stellenbosch/Somerset-Wes versoek om vanjaar se Week van Gebed temas voor te berei. Die ekumeniese bande tussen die Evangeliese Lutherse Kerk van Suid Afrika en die Familie van NG Kerke is aan die groei; ons is daarom baie dankbaar teenoor pastor Felix dat hy ingewillig het om die reeks te skryf. Hy het ‘n uitstekende en baie oorspronklike Week van Gebed reeks geskryf, waarin hy ons uitnooi om die Psalms biddend te lees, nee, eintlik in te asem – juis ook in ons tyd waar ons almal so ly aan asemnood.

Eddie Orsmond en Gideon van der Watt (Redakteurs)

Pastor Felix Meylahn en die Friedenskirche in Stellenbosch

Inleiding

Klou jy te midde van swaarkry vas vir al wat dit werd is? Kan ek jou aanmoedig om dit te doen deur die Psalms in alle erns te bid. Dis presies hoekom hulle daar is. Ek gee graag die volgende redes waarom ek dink dat die bid van die Psalms ons kan help oorleef in moeilike omstandighede:

Die skrywer Aoife Abbey, ‘n spesialis dokter wat in ‘n intensiewe sorgeenheid in Brittanje werk, het ‘n fassinerende boek met die titel Seven Signs of Life. Stories from an Intensive Care Doctor geskryf. Hierdie “tekens van lewe” waaroor sy skryf, is nie dié wat mens sou verwag dat dokters by hulle pasiënte sal dophou, soos asemhaling, hartklop of polsslag nie, maar dit is die kern-emosies van lewe:

Vrees, treur, vreugde, ontwrigting, woede, afgryse en hoop.

Sy skryf dat elkeen van ons die een of ander tyd in ons lewe hierdie emosies ervaar, maar as dokter ervaar sy meestal ál die emosies op een dag. Sy wy dan ‘n hoofstuk aan elkeen van dié emosies, en illustreer dit met stories uit die hospitaal. Dis roerende verhale, soms snaaks, maar telkens is dit eerlike beskrywings van ervarings waarmee sy in haar werk te doen kry en wat sy moet leer verwerk. Om dié verhale neer te skryf, woorde te vind om uitdrukking aan haar ervarings en rou emosies te gee, en dan daaroor te besin, het haar gehelp om staande te bly en met haar werk voort te gaan. Terwyl ek die boek gelees het, het daar in my agterkop ‘n gedagte na vore bly kom. Die manier waarop die verskillende, eg menslike emosies beskryf word – hoe dit in hierdie stories beleef en uitgedruk word – doen maar op ‘n manier presies dieselfde as wat die Psalmboek oor eeue heen doen aan mense wat die woorde daarvan bid. Dit gee woorde aan belewenisse, dit verbaliseer emosies van trauma, die emosie van vrees, van treur en rou, of van woede, afkeur, vreugde, ontwrigting of hoop. In die Psalmboek het ons ‘n skatkis van bronne, ‘n hele dokterstas vol “medisyne” vir alles wat ons as mense kan laat ly of laat gedy. ‘n Ou Hasidiese spreekwoord stel dit mooi: “Verlasst euch nicht auf Wunder, sondern rezitiert Psalmen.” “Moenie jou vertroue op wonderwerke plaas nie; sê liewer die Psalms op”. Letterlik beteken dit: om die Psalms te bid kan jou lewe verander; dit kan jou lewe red.

Basiese inligting oor die Psalmboek en ‘n paar gedagtes oor ons situasie vandag

  1. Die Psalms is gebede wat op so ‘n manier geskryf is dat mens dit alleen, of saam in ‘n groep kan bid. Dis egter telkens gekoppel aan die ritme van ons asemhaling. Dis ‘n herinnering dat ons “lewende wesens” is, want het God ons mense dan nie uit klei geskep en toe sy asem (Gees) in ons ingeblaas nie! Wanneer ons dus beleef dat ons “uitasem” is, kan ons die Psalms op so ‘n manier bid dat dit ons help om deur die krag van die Gees teruggebring te word na die ritme van God se asemhaling, ons weer “opgewek word” of “teruggewen” (geresussiteer) word en ons ons weer asemskep. Gebed is om toe te laat dat God se Ruach (wind/gees/asem) ons papwiel-bestaan weer oppomp.

  2. Hoe lyk jou situasie? Ek bevind myself deesdae letterlik uitasem, want ons lewe in hierdie tyd onder konstante druk. Dit voel dikwels of my longe toetrek, erg onder druk is, asof die lug uit my gepers word en ek sukkel om asem te haal. Ek beleef dat mense rondom my ook aan asemnood ly. Toe ek en my vrou Covid gehad het, het ons self ook daardie desperate ervaring gehad van iemand naby jou wat sukkel om asem te haal, wat deur die nag hoes en proes. In baie pastorale gesprekke het ek meegeleef met mense wat dieselfde uitasem-ervaring gehad het, die gehyg na asem, die paniek-gevoel dat die lewe uit jou gepers word.

  3. Die Psalms is so geskryf dat die frases in Hebreeus net mooi die regte lengte is om dit in een asemteug te lees (geen vertaling het ongelukkig dieselfde effek nie). Na elke frase is daar dan ‘n pouse om te kan asemskep voor die volgende frase gebid word. Die idee is telkens dat die uitblaas van jou asem, wat gebeur terwyl jy die woorde bid, ‘n klein bietjie langer neem as die inaseming in die pouse tussenin. Dis presies wat mense geleer word om te doen wanneer hulle sukkel met asma en met angsaanvalle wat hiperventilasie kan veroorsaak. Asem uit so lank as wat jy kan. Raak ontslae van al die gebruikte lug in jou longe –die lug wat nie meer suurstof in het nie – en haal dan weer so kalm as wat jy onder die omstandighede kan diep asem. Nie ‘n vinnige of vlak gehyg of gesnak na asem nie, net diep genoeg om die volgende frase te begin lees. Laat die suurstof-gevulde lug rustig, sonder inspanning in jou invloei – die volgende frase se inhoud is dikwels ‘n antwoord op die vorige frase of ‘n herhaling daarvan – ten einde dit te laat insink en meer ruimte in ons gees te kan vind.

  4. Ons weet dat hierdie Psalms in die gesamentlike aanbidding in die Tempel meestal responsief (afwisselend, beurtelings) gebid is – ons doen dit ook dikwels in die liturgie. En dan is daar die bykomende element van die ondersteuning van ons asemhaling, want terwyl die ander groep ‘n frase sê, kry ons ‘n kans om die Woord van God wat hulle aan ons sê, in te asem, sodat ons genoeg asem het om weer ‘n frase van die Woord aan hulle terug te sê, dit wat hulle uit die Woord behoort te hoor, voluit te proklameer.

WWalter Brueggemann, die teoloog wat uitgebreid oor die Psalms en die interpretasie daarvan geskryf het, wys daarop dat ons onsself meestal op een van drie plekke bevind:

  1. ‘n plek van oriëntasie, waarin alles sin maak en goed en reg voel;
  2. ‘n plek van disoriëntasie, waarin dit vir ons voel ons sink weg in ‘n diep put en
  3. dan ‘n plek van reoriëntasie, waarin ons besef dat God ons uit die put opgelig het en ons ons op ‘n nuwe plek bevind, ‘n plek gevul met dankbaarheid en ‘n bewussyn van God se teenwoordigheid in ons lewe.

Hierdie is nie bloot drie kategorieë waarin ons die verskillende Psalms netjies ingepas kan kry nie; dit beskryf eerder die drie fases van omstandighede waardeur ons lewens meestal gaan – fases hoe ons ons huidige, daaglikse realiteit ervaar. Dit is meestal ‘n herhalende siklus, soms selfs ‘n wilde wipplankryery, op en af tussen die verskillende maniere hoe ek die werklikheid ervaar. Die een oomblik voel ek heel seker van alles, tevrede met die lewe en vol vertroue dat God hier naby my is, dat Hy in beheer is en dat alles goed gaan. Die woorde van Psalms kan my dan help om dié belewenis van oriëntasie, hierdie belewing dat God goed is vir my, met vreugde te verwoord. Maar net die volgende oomblik kan iets gebeur, binne of buite my, wat alles totaal ontwrig, wat alle lewenskrag uit my dreineer. Dan kan ek skielik nie meer enigiets sien wat my hoop of vertroue gee nie. Dan beleef en ‘n fase van disoriëntasie. Hopelik kan ek dan die moed bymekaarskraap om te erken dat ek die oriëntasie wat ek gedink het ek het, verloor het. Deur die proses om die woorde van lament (klaagliedere) of die wanhoopskrete tot God wat ons in die Psalms teëkom, te bid, dit ons eie woorde te maak, word ons dan gebring by ‘n nuwe fase van opwekking en herstel na reoriëntasie – mens sou dit amper ‘n metode van mond tot mond asemhaling (resussitasie) deur die Woord van God in die Psalms kon noem.

Dus, eerder as om die verskillende Psalms netjies in die verskillende kategorieë te verdeel, kom ons beoefen liewer bewuswording; kom ons laat toe dat die Psalms ons tegemoet kom in die verskillende stadia van ons lewenstryd om die werk te doen wat God daarvoor bedoel het. Hierdie bedoeling met die Psalms was om geloof in ons te wek, om hoop te laat ontwaak, om die nuwe lewe in ons te koester en sterk te maak – presies dit wat die Woord van God, Jesus Christus, gekom het om aan ons te skenk.

As ons uit ‘n ervaringshoek na die dinamiek tussen dié drie kategorieë kyk, kan ons dit ook as twee bewegings sien – een van oriëntasie na disoriëntasie en dan ‘n tweede van, of liewer uit disoriëntasie na reoriëntasie. Dit kom baie naby aan wat Martin Luther bedoel het met sy interpretasie van die werk of funksie van die Woord van God as ‘n dinamiese, of selfs dialektiese spanning tussen Wet en Belofte (Evangelie). Met Wet word nie net die skrifgedeeltes bedoel wat formeel opdragte of verordening of verwagtinge bevat nie (Sien byvoorbeeld Psalm 119) – hoewel dit ook daarby ingesluit is – maar eerder die Skrifgedeeltes wat ‘n spieël voor ons ophou om vir ons te wys dat ons diep in die moeilikheid is. ‘n Spieël wat wys dat ons naby die afgrond van die dood huiwer, dat die “loon van sonde” swaar op ons siel en gees lê, dat ons verwyder geraak het van God, en dat ons desperate pogings om in eie krag ons verlossing te verdien, ons net in ‘n dieper wanhoop en ellende laat beland het.

Wanneer ons ons dan op hierdie plek bevind, ‘n plek van diepe disoriëntasie en hopeloosheid, roepende tot God met die woorde wat die Psalms van disoriëntasie ons bied, is dit juis hierdie woorde uit die Psalms wat ons oë weer rig op dit wat God self vir ons verlossing vermag het, die handelinge van God, die “wonderbaarlike verlossingsdade van die Almagtige” wat ons resussiteer en ons vertroue laat herlewe, wat ons weer laat ontdek: “God is ons skuilplek, ‘n bron van krag, as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde” (Psalm 46).

Hierdie dubbele beweging herinner ons ook aan wat die Apostel Paulus ons oor die doop leer. In die doop word ons met Christus gekruisig, maar dan ook met Hom uit die dood opgewek (Romeine 5 en 6). Luther het gepraat van die ou Adam wat eers “verdrink” moet word, sodat ‘n “nuwe mens” uit die doop kan kruip. Dit is die Teologie van die Kruis, wat nie ‘n statiese geloof met bepaalde geloofswaarhede is nie, maar ‘n geleefde ervaring om dieselfde gesindheid in ons te hê wat daar ook in Christus Jesus was. Hierdie een-wees met Christus, met dieselfde gesindheid as Christus, word in Filippense 2:5-11 beskryf.

Die Psalms is menslike woorde aan God gerig, en tog is dit ook God se Woord aan ons gerig – die skeppende Woord wat ons as gebroke mense herskep. Verlore mense, skuldige mense, twyfelende mense word omskep in mense wat weer kan vertrou. Voor my geestesoog en in my verbeelding kan ek hierdie mense sien – en ek het hulle reeds in ons gemeentes gesien – mense wat weet dat hulle aan God behoort, dat hulle ongeag die moeilikhede waarin hulle hul bevind, steeds op God kan vertrou. Mense wat in die lewe van die gemeente en die gemeenskap betrokke raak vir redes wat hulle eie belang ver te bowe gaan. Hulle het wegbeweeg van die ou en wydverspreide geloof in die blinde noodlot en stomme kanse, die afgode en magte van markte en aandelebeurse – hulle glo nie maar dat hierdie wêreld, gevul met metodes van brutale misbruik, vernedering en pyn die enigste moontlike wêreld is nie. Hulle glo nie meer dat daar enigiets in hierdie ou wêreld is wat onvermybaar is nie, soos kindersterftes, vigs, die bittere onreg van armoede en daaraan verbind die vreeslike tragedie van sistemiese geweld wat weer lei tot huishoudelike en geslag-gebaseerde geweld.

Hulle is herskep en gereoriënteer, gerig op ‘n nuwe wêreld in wording, wat ook die Koninkryk van God (soos deur God belowe) genoem word. Bietjie vir bietjie ploeg hulle die lande, plant en versorg hulle die ontkiemende saad van hierdie nuwe wêreld waarin die Shalom (Vrederyk) van God uiteindelik heerskappy sal voer. Ek sien die mense hier en daar, en ek glo wat ek sien – veral wanneer my ore hoor hoe hulle die woorde van Psalms bid, woorde wat hierdie reoriënterings- en herskeppingswerk in hulle doen.

Maar genoeg daarvan om te probeer verduidelik hoe die Psalms ons van wanhoop na hoop kan bring, van wantroue na geloofsvertroue en van dood na lewe. Kom ons laat die Psalms toe om dit self aan ons te doen. Om net die Psalms te verduidelik is waarskynlik net so effektief as te vertel van ‘n ete wat deur ‘n drie-ster Michelin Chef voorberei is. Om regtig die maal te kan waardeer, moet jy dit self eers kan eet. Om regtig in jou hart en jou liggaam te weet wat die Psalms vir jou kan doen, moet jy dit self bid – bid so al wat jy werd is. Ek moedig jou aan om vas te byt. Dit sal nie ‘n maklike reis wees nie, maar dit sal jou neem na ‘n plek waar jy God se versorgende liefde kan ervaar.

PSALMS

Kom ons bid eers die Psalm. Laat die woorde deel van jou asemhalingsritme word. Lees een frase op ‘n keer. Wanneer jy die lug intrek nadat jy ‘n frase gesê het, laat die woorde in jou hart grondvat voordat jy die volgende frase lees. Dit is belangrik om die frases hardop te lees, nie maar net saggies nie – ons hele liggaam moet betrokke raak om aan hierdie lewegewende woorde vas te klou.

  1. Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
  2. Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?
    Vir altyd?
    Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
  3. Hoe lank moet ek nog my eie planne maak
    en my dae met kommer deurbring?
    Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?
  4. Luister tog en antwoord my, Here my God!
    Gee my tog nuwe lewenskrag.
    Ek wil nie sterwe nie,
  5. anders sê my vyand hy het my oorwin
    en juig my verdrukkers oor my ondergang.
  6. Ek hou vas aan u troue liefde,
    oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
    k wil sing tot eer van die Here,
    omdat Hy aan my goed gedoen het.

Interpretasie

Die “hoe lank” is nie ‘n neutrale vraag oor tydsduur nie, maar ‘n geïrriteerde, selfs vermetelde en knaende vraag: “hoeveel langer gaan dit neem?” Vier keer word hierdie pynlike vraag na God se ore geslinger – Hoe lank? Hoe lank? Hoe lank? Hoe lank? Ons vra nie vir God ‘n tydskedule nie, of informasie oor die “tydsraamwerk” van die geskiedenis nie, nee, ons pleit hier by God om nou dadelik ‘n einde te bring aan die trauma om vergete te voel, die gevoel dat God sy aangesig van my wegdraai terwyl ek heeldag pyn in my siel en hartseer in my hart verduur. Here, maak nóú ‘n einde aan hierdie tyd waarin my vyande oor my triomfeer!

“Vyande”? In die vroeë dae waarin die Psalms gebid is, was daar werklike vyande, mee-doënlose teëstanders met gewelddadige voornemens en vermoëns. Stamtwiste en oorloë het veroorsaak dat vyande ‘n konstante realiteit in mense se lewens was. Die oorlewing van die stam was op die spel en die lewensbronne waarvoor kompeteer is was beperk. Stamme het met mekaar geveg vir water of weiding vir hul vee. Gemeenskappe moes plekke soek om te vestig waar die grond vrugbaar genoeg is om oeste te lewer. Hulle is dan aangeval deur ander stamme wat vir dieselfde kanse op oorlewing op soek was.

Al het ons soms werklike vyande, het meeste van ons deesdae nie meer nodig om elke dag teen gewelddadige vyande te veg vir oorlewing nie. Maar ons moet onthou dat daar wel oral in die wêreld mense is wat elke dag moet veg om oorlewing in harde, onverbiddelike omstandighede. Miskien kan ons vandag die woorde van hierdie Psalm bid met ‘n ander verstaan van wie die vyande is. Daar is vyande binne ons: gedagtes en gevoelens wat ons teister en tot wanhoop dryf. Depressie en angstigheid kom by al hoe meer mense in ons wêreld en tyd voor. Daar is ook ander soort vyande buite onsself: ekonomiese druk, byvoorbeeld, die vrees om jou werk te verloor en in ‘n desperate posisie van werkloosheid te verval. Ons wat ‘n vaste en veilige werk het kan ons glad nie indink wat dit fisies en emosioneel beteken as mens nie werk het nie, veral binne ‘n kultuur wat mens blatant definieer word in terme van die werk wat jy vir ‘n lewe doen of hoeveel ons verdien.

Ons het dus in ons dag oorgenoeg rede, en geleenthede, om met hierdie vraag tot God uit te roep: Hoe lank? Hoe lank nog? Oefen om die woorde van hierdie vraag hardop te sê – en as jy dit uitsê, moet jy oorweeg om dit selfs teenoor God uit te skreeu. Laat die kreet met die vrae die plekke in jou lewe wat vol pyn en angs is, aanraak … en laat dit oor aan God om jou daarvan te verlos en te heel.

2.  Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
     Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

3.  Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?
     Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Deur ons hart en siel, maar ook ons liggame uit te stort in hierdie krete gevul met vrae aan God, die aandrang dat God ons tog antwoorde moet gee, vind ons dat dit ons bring by ‘n gesindheid van verwagting, afwagting: “Luister tog en antwoord my, Here my God!” Die gebed verwag van God dat Hy sal antwoord, en inderdaad met praktiese verlossingsdade sal antwoord. “Gee my tog nuwe lewenskrag” – “verlig tog my oë” vertaal die 2020 Afrikaanse Vertaling dit. Met ander woorde: “laat my die waarheid agter dit wat hier gebeur raaksien, laat my sien waarheen ek moet gaan, wat ek behoort te doen?” En selfs nog belangriker: “laat my sien dan U, o Here, iets doen om die situasie wat my na my dood dryf te verander.” Met die woorde van die Psalm stoei ek met God, argumenteer ek selfs heel vrymoedig dat God sekerlik tog nie sal wil sien hoe my vyande oor my die oorhand kry en dan daaroor juig dat hulle my oorrompel het nie!

As daar een ding is wat ons as moderne Christene van die Psalmboek kan leer, is dit hierdie vrymoedigheid, selfs vrypostigheid in ons verhouding tot God. Vir te lank het ons geleer mens mag net nederig buig voor die almagtige God, dat ons dit nie mag waag om ons stemme te verhef in protes as iets duidelik ingaan teen dit wat God in sy Woord belowe nie. Die Psalms is juis vol van presies hierdie soort gebede, vrymoedig, gebede wat bly aandring, gebede wat God by sy beloftes in sy Woord hou. In die Nuwe Testament moedig Jesus ons ook aan om so te bid, om met vrymoedigheid aan te hou vra, volhardend te vra; dit is juis ‘n teken van egte geloof (Matteus 8:5-13, 15, 21-28 en Lukas 11: 5-8, 18:1-8)

In hierdie volhardende pleitbedes, beweeg ons al hoe meer in God se beloftes in, neem ons die beloftes al hoe meer ernstig op, gee ons gestalte aan die woorde wat God ons in die Psalms gee om te bid. Dit laat ons liggame toe om weer die hoop van die Gees in te asem, die “asem” (Ruach) van God wat in ons ‘n vaste vertroue laat groei. Want juis ook in dié gebede van die Psalms leer ons dat God se liefde vas staan. God se liefde is eg. Bid gerus die laaste strofes van hierdie Psalm, terwyl jy onthou om jou asemhaling in ritme met God se Gees te bring. Vertrou die woorde as jy dit bid.

6.  Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Gebed

“Here Jesus, U wat deur die inkarnasie (vleeswording) ‘n “Man van Smarte” geword het, gewoond daaraan om te ly en te treur, onthou ons in u genade, ons wat op weg na u koninkryk nog hierdie dal van trane en vele aanvegtinge moet bewandel. U wat belowe het om met ons, u kinders, te wees en ons tot die einde toe by te staan, skenk ons u Gees, u lewegewende asem, die Gees van vreugde en vrede. Gee dat u Gees ons wat so swaarkry se harte, asook die harte van alle ander lydende mense, sal vul met u ewigdurende troos. Amen. (Baseer op ‘n gebed deur Martin Luther)

Soms voel dit asof God my verlaat het. Wanneer ek na myself kyk, kan ek dit goed verstaan – daar is immers nie veel van my om oor bly te wees nie, is daar? Het jy al ooit só gevoel? Voel dit miskien asof die mense wat jy liefhet, óf die waarvoor jy werk, moed opgegee het met jou? Hulle het dalk goeie redes daarvoor; ‘n groot fout wat jy begaan het, of ‘n skadelike gewoonte wat jouself of ander benadeel – ́n karakterfout wat jy sukkel om te verander. Ons samelewing bevorder die idee dat jy ander kan “trots maak op JOU” deur die “krag van positiewe denke”. In hierdie konteks word die klein en minder sigbare tekens van wanhoop en eensaamheid telkens misgekyk. Dit skep by baie mense ‘n diep oortuiging dat hulle nie werd is om God se sorg te ontvang nie.

Ek ontmoet ‘n beduidende hoeveelheid mense wat, ná afloop van ‘n deernisvolle gesprek, erken dat hulle nooit waardig gevoel het om nagmaal te gebruik nie, en wat dink dat hulle eers ‘n bepaalde vlak van heiligheid of goedheid moet behaal voordat hulle by God se tafel mag aansit. Wat het ons as Christene verkondig om só ‘n algemene idee te laat posvat? Miskien is die Christelike Evangelie té goed in ons huidige kultuur ingebed dat sodanige oortuigings as waar aanvaar word: dat aanvaarding verdien moet word; dat niks sonder verdienste bekom kan word nie; dat jy net ontvang wat jou toekom en niks meer nie.

In die aangesig van die vyand, soos genoem in die Psalm, is Psalm 16 ‘n gebed vir dié van ons wat geteister word deur gedagtes, emosies en selfs ervaringe van verwerping. Waar anders sal ons toevlug vind as by ons God, ons enigste betroubare toevlug?

Ek nooi jou uit om te bid deur weereens die individuele frases aan jou asemhaling te koppel. Laat hierdie woorde van God se goedheid al die plekke binne jou aanraak wat deur die vyand verwond is, die stemme binne en buite jou wat sê dat jy onwaardig en onaanvaarbaar is, die plekke waar jy in versoeking gelei word om ‘n ander god te kies – ‘n meer voorspelbare god, ‘n god wat jy kan manipuleer met die hedendaagse “quid pro quo” manier van leef.

  1. Neem my in beskerming, o God;
    ek soek skuiling by U.
  2. Ek het vir die Here gesê:
    “Ek behoort aan U,
    daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
  3. Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –
    met hulle wil ek niks te doen hê nie.
  4. Mag elkeen wat ́n ander god vereer, baie smart beleef.
    Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,
    hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
  5. Here, U is my lewe, U sorg vir my.
    Wat ek ontvang, kom alles van U af.
  6. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet,
    ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
  7. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
    selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
  8. Ek het die Here altyd by my:
    omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
  9. Daarom is ek bly en juig ek
    en voel ek my veilig.
  10. U gee my nie oor aan die dood nie.
    U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
  11. U leer my hoe om te lewe.
    By U is daar oorvloedige blydskap.
    Uit u hand kom net wat mooi is.

Spreek hierdie psalm nie ‘n ongelooflike mate van vertroue uit nie? Dit is nie bloot omdat die Psalm daarin slaag om die leser in staat te stel om hom- of haarself uit die put van wanhoop te lig nie, maar ook omdat dit deurgaans fokus op die goedheid van God. Die psalm dui op dít wat God reeds gedoen het, én die vertroue dat God sy reddende, versorgende en opheffende werk in die toekoms sal voortsit.

Die konkreetheid van wat hierdie gebed (in die sin dat “gebed” verwys na die persoon wat bid) onder God se sorg ervaar het, is betekenisvol. Die gebed noem die land wat gegee is en die erfenis wat ontvang is. God het die materiële, wat ons vir oorlewing benodig, reeds voorsien. Dit dui nie slegs op geeste

like aangeleenthede nie – ons moet nie so ‘n onbybelse onderskeid tussen die materiële en geestelike realiteit toelaat nie – maar ook op wêreldse kwessies van lewe en oorlewing. Dit ís wel wêreldse bekommernisse, maar is deurdrenk met God se genade en teenwoordigheid; dit is op ‘n manier heilig. Ek het grootgeword op ‘n plaas in die Noord-Kaap, en ek verstaan die belangrikheid van goeie grond vir die plant van gewasse. Ek het dikwels na my pa gekyk w

aar hy afgebuk het en ‘n handevol grond opgetel het, dit intens bestudeer het en daaraan geruik het. Op sy gesig was ́n uitdrukking van diepe saligheid. “Dit is goeie grond!”, sou hy sê, “dit sal goeie vrugte lewer!”

God se bedoeling met die Skepping en Verlossing is altyd Lewe: sy teenwoordigheid en werk ís Lewe. Lees weereens stadig deur die verse, adem dit in jou siel in; die siel van die mens is God se asem, God se gees, God se lewe in ons. Dit blyk ook uit Genesis 2 en 7.

8. Ek het die Here altyd by my:
    omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9. Daarom is ek bly en juig ek
    en voel ek my veilig.
10. U gee my nie oor aan die dood nie.
    U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.

Kan jy sien hoe die ervaring van God se teenwoordigheid hier beliggaam word? Hart, siel en liggaam word ingesluit by hierdie bron van Lewe. Hierdie ervaring word verwoord in die verse waar liggaamskennis gewaar word: “U gee my nie oor aan die dood nie” – God het my nie verlaat nie! In God se teenwoordigheid het die dood geen mag oor my nie.

11. U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Maak hierdie woorde jou eie. Sê hulle hardop en herhaal hulle totdat hulle deel word van wie jy is – ‘n mens deur God geskape, wat lewe deur die asem van God, in ritme met hierdie asem wat lewe in die skepping blaas en wat gevul is met die vreugde in al die genot van die ewige Lewe.

Gebed

O God, U het nie u dienaar oorgelewer aan die put nie, maar het hom verhef uit die graf. Wys my die lewenspad, soos U my gered het as u kind, sodat ek volkome genot uit u teenwoordigheid kan put, tot in alle ewigheid. Amen.

(Aangepas uit ‘n gebed uit Celebrating Common Prayer, A Version of the Daily Office SSF)

In ‘n wêreld wat kwesbaarheid verag en ons noop om ons af te sonder van en te waak teen enigiets wat vreemd, nuut of anders is, is dit dikwels moeilik vir hoop om vastrapplek te kry. Ons sal maklik erken dat die wêreld in ‘n gemors sit, dat daar dringend hulp – inderdaad redding – nodig is. Maar is ons braaf genoeg om te hoop dat só iets werklik moontlik is? Sou ons bereid wees om so ‘n verandering te aanvaar?

Oorweeg byvoorbeeld enige van die kwessies wat tans eindeloos bespreek word. Klimaatsverandering, sou meeste mense saamstem, is ‘n dringende saak wat duidelik onmiddellike en ingrypende optrede vereis. Tog, by een na die ander beraad oor klimaat slaag die hoëlui daarin om met hul halfhartige pogings om dié probleem aan te spreek weg te kom. Hulle blyk meer angstig te wees oor dié wat belang het by die ontginning van fossielbrandstof as oor die huidige, onomkeerbare skending van God se wonderlike skepping. Dink aan die pandemie van geslagsgebaseerde geweld wat die wêreld én ons land so teister. Daar blyk geen teken te wees dat hierdie kultuur verander word deur enige van die ingrypings wat toegepas word nie. Direk hieraan verwant is alkoholmisbruik; die goeie geskenk van wyn, gegee “om mense se harte bly te maak” (Psalm 104: 15), word misbruik bloot om so besope moontlik te raak. Ek het dít al op universiteitskampusse dwarsoor die land waargeneem, asook in die ongevalle afdelings van al ons hospitale, waar ernstige leed, beserings, ongelukke en sterftes – die gevolge van alkoholmisbruik – tot die punt van uitputting hanteer word. Veral mans blyk te glo dat hulle, hul manlikheid kan bewys deur hoeveel alkohol hulle kan “vat” – dikwels raak hulle toenemend meer gewelddadig teenoor ander hoe meer hulle drink. Dít is ‘n wrede en oënskynlik onstuitbare siklus wat homself weer en weer afspeel.

Laat ek hier halt roep voordat ek my aan wanhoop oorgee! Ek glo wel dat jý sal saamstem dat bogenoemde realiteite ‘n bitter ernstige offensief is teen die hoop op verandering, mits ons kan vashou aan die hulp wat Psalm 24, ‘n Christelike Adventpsalm, uitstraal na ons desperate leë hande en harte. In die lig van my beskrywing van die desperate wêreldsituasie hierbo, hoop ek dat die onwrikbaarheid van die volgende woorde aan ons duidelik sal word.

  1. Die aarde en alles wat daarop is,
    die wêreld en dié wat daar woon,
    alles behoort aan die Here,
  2. want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê
    en dit stewig gevestig in die waters.

Ons kan maklik wonder of hierdie woorde werklik waar is. Sekere mense (individue, maatskappye, regerings en ander) voer aan dat die aarde aan hulle behoort, en dat hul daarmee kan doen wat hulle goed dink. Dié wat glo dat die aarde ‘n heilige geskenk van God is, wat deur ons mense as God se rentmeesters bewaar moet word, word afgemaak as idealiste wat nie die ekonomiese realiteit verstaan nie. Vir dié wat glo Dat dit God se aarde is, blyk daar dus geen heenkome te wees nie. Ons moet dus “die berg van die Here” bestyg; ons moet God vra om hulp en waag om in dié heilige plek te staan. Maar durf ons dit doen? Is ons dan nie onlosmaaklik vasgevang in die menslike penarie en skuldgevoel van ons onrein harte en hande nie? Geeneen kan tog aanvoer dat hulle rein en suiwer genoeg is om tot die berg van die Here toegelaat te word nie.

3. Wie mag die berg van die Here opgaan
    en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4. Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is,
    wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.

Dít is dalk die rede hoekom dié psalm ’n Adventpsalm geword het: omdat “die berg van die Here” verskuif het met die koms van die Man van Smarte, toe Hy sy kruis teen die heuwel buite die Heilige Stad opgedra het. Daar is Hy gekruisig saam met die onreines, die leuenaars en bedrieërs. Sy dood op dié plek is die enigste rede waarom ons die berg van die Here met ootmoed mag bestyg. Wanneer ons daar is sal die wonderwerk van genade aan ons openbaar word.

5. So iemand sal van die Here seën ontvang,
    en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.

6. Die mense wat na sy wil vra en Hom dien,
    is die geslag van Jakob.

Soek in alle erns die aangesig van die God van Jakob. Dink na oor die wêreld, my en jou wêreld, en my en jou aandeel in die wêreld se probleme; staan eerlik voor die God van Jakob. Besin oor hoe jy moet leef in die wete dat die God van Jakob, die Een waarmee Israel geworstel het om sy guns te verkry (Genesis 31), jou aankyk met heilige kommer. Laat ons onsself nie flous nie: ons sál weer foute maak. Ons sal nie daarin slaag om ons eie standaarde te bereik nie, en nog minder die heilige standaarde van God se reg en geregtigheid. Maar soos ons aansukkel, opnuut bewus van ons verantwoordelikheid om God se aangesig te soek en om onder sy heilige blik te leef, sal ons die uiteindelike oplossings vir ons wêreldkwessies vind. Ons sal die antwoorde ontdek in die koms van die Almagtige Koning.

7. Verbly julle, poorte,
    wees bly, eeue-oue deure,
    want die magtige Koning wil ingaan!
8. Wie is hierdie magtige Koning?
    Die Here, sterk en geweldig,
    die Here, oorwinnaar in elke stryd.
9. Verbly julle, poorte,
    wees bly, eeue-oue deure,
    want die magtige Koning wil ingaan!
10. Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,

    Hy is die magtige Koning.

Op Palmsondag van die liturgiese jaar vier ons die koms van die Almagtige Koning, hoe Hy op die rug van die “pakdier van vrede” die stad binnery. Hy is die simbool van geweldloosheid; Hy word verwelkom deur dieselfde skare wat dae later aandring op sy kruisiging. Maar dié Almagtige Koning word ook tydens die Advent verwelkom. Hy is die Een wat kom as ‘n pasgebore kind, weerloos en blootgestel aan die harde werklikheid wat so eie is aan die armoedige gemeenskap waarin sy vleeswording plaasvind. Weereens, wanneer ons die laaste reëls van hierdie Psalm bid, moet ons mooi luister, en dan jubel. Die Koning van Glorie, Hy wat sterk en almagtig is, Hy gaan juis na mense wat deur die magtiges van die wêreld vermy word. Hy reik uit na die swakkes, die onderdruktes, die gemarginaliseerdes, die uitgeskuifdes. Presies daarin setel ons hoop, dáár lê ons enigste hoop dat hulp ook na ons, ons land, en ons geweldgeteisterde gemeenskappe sal kom. Gaan ons onsself oopstel vir dié Almagtige Koning? Bid hierdie Psalm totdat jou hart, siel en liggaam uitbasuin: JA!

Gebed

O Heer van die leërskare, soos ons die woorde van hierdie Adventpsalm lees, herskep ons opnuut. Skenk aan ons ope harte, siele en gedagtes, sodat U Seun, Jesus ons Verlosser, na ons mag kom en tussen ons mag leef as die Prins van Vrede en die Almagtige Koning. Amen.

Psalm 46 staan bekend as die “Psalm van Hervormingsdag”, die Psalm waarop Martin Luther sy welbekende lied ’n Vaste burg is onse God, gebaseer het. Laat ons dit eers bid terwyl ons daarop fokus om die ritme van God se Gees tydens ons gebed in te adem.

2. God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

3. Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

4. al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.
     Sela
5. Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,\
in die heilige woning van die Allerhoogste.

6. God is daar; die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help nog voor die môre kom.

7. Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.

8. Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Sela

9. Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:

10. die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

11. Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12. Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Sela

Laat ons dit weer bid en ontdek hoeveel woorde daarin ons help om te reoriënteer, woorde wat ons lewe red.

Die Psalm begin deur ons te nooi om ‘n sterk uitspraak van vertroue te maak, ‘n belydenis: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming”. Pas nadat ons hierdie vertroue uitspreek het, word die rede daarvoor duidelik gemaak: “Hy was nog altyd bereid om te help in nood” Dít is die kruks van die saak. Die wêreld is vol kwellinge en kwale; daar is moeilikheid in ons lewens en ons is in die moeilikheid! Ons lewe nog nie “die goeie lewe nie”; nee, ons ploeter voort en oorleef skaars elke dag. Selde voldoen ons aan die maatstawwe wat God so duidelik vir die wêreld neergelê het in die Gebooie en die Bergrede. Hierdie Psalm is nie net ‘n belydenis van vertroue nie, nie bloot ‘n uitdrukking van die geloof as gemaksone nie. Dit spreek ook nie van ‘n soort selfversekerdheid oor ons georiënteerdheid nie; dit is eerder gewortel in vroeëre ervarings van diepe disoriëntering. Daar was tye in die verlede wat ons ook gedog het alles is goed en wel, dat God in beheer is en dat dit met ons voorspoedig gaan. Maar dan moes ons meer kere leer dat moeilikheid altyd weer op pad was. Ons moes leer dat ons maar al te dikwels in ons verantwoordelikhede gefaal het en nie geleef in die vertroue wat pas by kinders van God nie. Uit ervaring het ons dan geleer dat ‘n gevoel van oriëntering skielik in ‘n disoriëntering kan oorslaan.

Bykomend tot ons eie ontoereikendheid is nóg dieper kwellinge: die wonderlike skepping waarin ons leef is in chaos gedompel en is vinnig besig om in ‘n woestyn te verander. Berge skud en beef, vernietigende waters woed en bruis; lewe as sodanig is op planeet aarde in gevaar, erger as wat ons onsself kan indink. Midde dit alles getuig die Psalmbidder tog: ek sal nie vrees nie. Hoe dan so? Want, sê die Psalm: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”

Die Psalms is gebede waarin al wat menslike emosie of ervaring ter sprake gebring word; dit bied die mees realistiese voorstelling van die mens se lewe wat ek nóg teëgekom het. Die Psalms skram nie van die realiteit weg deur enige donker of growwe kante van die lewe bietjie af te vyl of weg te steek nie – soos wat ons maar deesdae meestal doen nie – nee, dit lê juis alles bloot, dit word in die oopte gebring. Die lewe word eerlik weergegee, en so leer ons om onsself én ons situasie prontuit te konfronteer. Tóg maak dit ons juis nie wanhopig nie. In die Psalms word wanhoop, twyfel, afkeur of selfs woede eerlik verwoord, geen doekies word omgedraai nie – omdat dit presies is hoe ons wêreld in werklikheid is. En juis hierdie wêreld laat ons wanhoop. Die Psalmbidders vind egter dat, deur die eerlike uitspreek van hierdie wanhoop, hulle gelei word na ‘n plek waar vertroue herstel, uitgespreek en uitgeleef kan word, ten spyte van die wanhopigheid waarmee ons dikwels gekonfronteer word.

Soos ons hierdie Psalm verder bid, groei daar ‘n nuwe oriëntasie in ons, vind ons onsself veilig in die “in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste.” Deur dié stad vloei daar ‘n verkwikkende rivier, ‘n stroom wat almal wat daar woon bly maak. Wat ‘n wonderlike beeld van lewe in God se teenwoordigheid is dit nie! Ek is redelik seker daarvan dat hierdie woorde nie net dui op die Heilige Stad Jerusalem en sy tempel nie. Ek glo dat dié woorde gehoor moet word as ‘n deurleefde beskrywing, ‘n eerstehandse belewing van hoe ‘n lewe in die teenwoordigheid van God is: God is hier tussen ons, by ons
teenwoordig! “Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.” Hoe meer “nasies rumoer en koninkryke wankel”, hoe meer word die wêreld en ons lewens ontwrig, dit begin wankel. Die lewe is nou maar eenmaal baie broos, en ons is kwesbaar. Oor die loop van die afgelope twee jaar, te
midde te midde die Covid-19 pandemie, het ons dit al hoe meer aan eie lyf ervaar. Tog bly ons hoop en is ons nie bevrees nie. Ons kan in vertroue staande bly, nie omdat ons geloofshelde is nie, maar omdat God in sy genade met ons is.

As ons hierdie Psalm verder lees, bring dit ‘n wonderlike verandering in ons binneste teweeg. Die vertroue begin weer groei, dit kom terug in ons lewe – ons maak dit ons eie. Ons begin weer kinderlik glo, soos kinders wat hul vader vertrou, so vertrou ons weer op ons hemelse Vader. En dan gaan ons oë weer oop, sodat ons met nuwe, geloofsoë leer kyk. Dan leer ons weer om God se handewerk in hierdie wêreld op nuwe manier raak te sien: “Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.” Hierdie verse nooi ons uit om God se magtige, en gewelddadige ingryping in die geskiedenis van die wêreld te kom aanskou. Persoonlik sukkel ek egter om sulke gewelddadige en vernietigende wêreldsgebeure te beskou en dit dan pertinent aan God se wil toe te skryf. Daar is soveel wat nie sin maak nie; dis sulke lukrake gebeurtenisse. As God oorloë kan voorkom en geweld kan staak, hoekom doen Hy dit nie dwarsoor die wêreld nie? Die antwoord op hierdie vraag weet ek nie, ek kan dit nie verklaar nie. Maar ten spyte van my onbegrip is ek bewus van die diep vertroue wat in die woorde van hierdie Psalm opgesluit lê. Dit is ‘n vertroue wat nie hierdie wêreld van ons aan ‘n blinde noodlot uitlewer nie; dit bly kinderlik vashou aan die oortuiging dat God in al die aaklige wêreldgebeure teenwoordig is.

Maar hoe? Ek huiwer om my enigsins oor die “hoe” uit te spreek … ek bly egter oortuig dat God dwarsdeur die chaotiese aardse geskiedenis by ons mensdom betrokke gebly het. Hier maak ek dan eerder ‘n a-histories keuse vir die evangeliese uitspraak dat God die geskiedenis binnegetree het, nié as ‘n magtige en oorlogsugtige God nie. Hy het dit gedoen as ‘n swak, kwesbare, sterflike mens wat tussen die ewe weerlose en swakke mense geleef het; dié mense wat deur die lewe sukkel, dié wat stoei om sin te maak uit die lewe, dié wat soms sukkel om bloot versadig en lewendig te bly.

11. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.”

Wees stil, bedaar. Hierdie woorde sê vir ons: word rustig, kalmeer. Moet nie toelaat dat angs jou oorheers nie; laat vaar die gedagtes wat jou mal maak, die vrese wat jou oorhaal tot hiperaktiwiteit ter wille van selfbehoud en wat eindelik net aanleiding gee tot wanhoop en selfveragting. Wees stil en weet. Wéét dit, nie net met jou verstand nie, maar ook in jou hart, omdat jy weet dat Iemand vir jou omgee. Omdat jy hierdie deernis ervaar, kan jy wéét dat God inderdaad God is en dat Hy hier en nou teenwoordig is.

Dit is nie soseer ‘n kwessie van gedagtes nie, of om die bestaan en wese van God te kan verklaar nie; dít is iets wat ons juis nie kan doen nie.

Dit is wél ‘n geval waar jy God toelaat om jou God te wees deur stil te raak, te kalmeer, en al jou eie pogings om aan God vas te hou prys te gee, te laat vaar, omdat jy weet dat dit eintlik God is wat jou vashou.

“Weet ek is God”, en erken dat Ek “hoog bo die nasies is, hoog bo die aarde” . Verhewe? Werklik? ‘n Gekruisigde Galileër van Nasaret wat in pyn uitroep na sy afwesige God: “Waarom het U my verlaat?” Ja, dié man is verhewe, verhoog as ‘n teken en ‘n belofte: Ek is met jou selfs wanneer jy wanhopig is. Hoe en hoekom mag ek dit sê? Hoe kan ons glo dat die gekruisigde Jesus dan God met ons is; daardie ellendeling wat buite die stad te sterwe kom, selfs deur sy naaste vriende verlaat?

My eie verstaan van wat krag en mag is laat my sukkel om te glo dat God selfs te midde van wanhoop by my is. Geen rasionele argument sal my ook hiervan kan oortuig nie. Ek kan dit alleen maar sê, dit slegs maar getuig, op grond van die belydenis dat Jesus deur God uit die dood opgewek is, op grond van die getuienis van sy volgelinge wat Hom kon sien en aanraak. Hulle kon selfs saam met hom aandete en ontbyt eet en vis braai op die strand. Hy het sy wonde vir hulle gewys en vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou”. Sien jy dat die opstanding nie die kruis negeer nie, nie die eensame dood op Golgota tot niet maak nie? Hy het steeds die wonde van die kruisiging gedra, maar die opstanding het hierdie gekruisigde man verhef en verkondig dat God nie vir Jesus verlaat nie. Dit verkondig aan ons dat God dáár is, en hier by ons, selfs vandag nog. Ook aan my is die genade gegee om dit te kan beleef. Selfs in diepe wanhoop het en sal God my nie verlaat nie. Laat ons dit dan weereens bid:

11. Wees stil, bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12. Die Here, die Almagtige, is by ons,
    die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Amen.

Het jy al ooit gewonder hoe dit sal voel om iewers ‘n plek te hê waar jy ten volle tuis kan voel? ‘n Ware tuiste: ‘n plek wat “net reg” voel, waar daar geen vyandigheid of gevaar is nie, waar jy omring is deur vrede en goedgesingheid – ‘n paradys! Bestaan daar ooit so ‘n plek? As ons die persoon wat Psalm 84 bid ernstig opneem, is dáárdie plek – die plek wat ons ‘n tuiste kan noem, die plek waar God self ons met sy genade “bedien” – die Huis van God, die woning van die lewende God van Israel.

Bid Psalm 84 stadig; laat die frases oor jou spoel, elk in ritme met jou asemhaling. Laat die woorde bewustelik vorm aanneem soos jy hulle uitspreek met jou mond, met jou stem, met jou hele wese. Laat jou verbeelding toe om dít wat jy sê te sien en te voel. Hierdie woorde besit skeppende krag; hulle doen wat hulle sê. Onthou dat God die wêreld met sy woorde geskep het (Genesis 1), en dat dit jou ook kan herskep!

2. Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
3. Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
     met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
4. Selfs ‘n mossie het ‘n nes
     en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies
     daar by u altare, Here, Almagtige,
     my Koning en my God!
5. Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie.      Sela
6. Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind
     en graag na u tempel toe gaan.
7.  Vir hulle gaan daar fonteine oop
     wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek
     en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8. Keer op keer ontvang hulle nuwe krag
     totdat hulle voor God in Sion verskyn.
9. Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob!     Sela
10. Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;
       hou u gesalfde onder u sorg.
11. Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God
      as om te woon in huise sonder God.
12. Die Here God is ons krag en ons beskerming,
      die Here gee genade en eer,
      Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
13. Here, Almagtige,
      dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!

Dit blyk dat die persoon wat hierdie Psalm gebid het moes tuisbly toe die ander lede van die geloofsgemeenskap hul gereelde pelgrimstog na Jerusalem aangepak het, dié wat op “die weg na Sion” is. Ons weet nie waarom die spreker nie saam met sy geloofsbroers en -susters kon gaan nie. Dalk was hy siek, of het iets anders voorgeval wat veroorsaak dat hy nie by die jubelende optog kon aansluit nie, by dié skare wat op pad was na die plek waar Shekinah, God se teenwoordigheid, ingewoon het. “Daar sal ek tuis wees”, weet hy, “veilig soos ́n voëltjie in die nes, daar waar ek werklik tuishoort.”

Die skrywer van die Psalm verlang na die teenwoordigheid van God; hy smag na daardie veraf plek waarheen sy broers en susters reis. Dáár, weet hy, kan hy wees wie hy werklik is. Daar kan hy dit wat hy werklik nodig het gaan vind: liefde, erkenning, aanvaarding, vreugde. “Daar kan ek wees wat God my geskape het om te wees: ‘n mens, menslik, ‘n wese ten volle aangewese op God, iemand wat daarom nie konstant deur vrees, skuld en skaamte geteister word nie.”

Hy smag heelhartig om na hierdie plek te gaan. Die pelgrimstog na Jerusalem was nie blote tydverdryf vir die Israeliete nie. Dit was nie ‘n interessante vakansie waarop jy gegaan het as jy dit kon bekostig nie, ‘n blote wegkomkans om te ontsnap van die harde realiteit van die lewe nie. Om ‘n pelgrim te wees was ‘n lewenswyse, dit was deel van hul geloofspraktyke om jaarliks te reis om God se wil en roeping vir hul lewe te gaan onderskei, en meer van God se plan vir hulle te begryp.

6. Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.
7. Vir hulle gaan daar fonteine oop
     wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek
     en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8. Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn.

Reisigers op só ‘n pelgrimstog weet dat hulle nie van die lewe kan weghardloop nie. Hulle reis is nie ‘n ontvlugting van realiteit nie, maar ‘n soeke na iets waarmee hulle juis hul realiteit kan konfronteer, wat hulle help om hul lewe so te omvorm dat hulle in God se teenwoordigheid kan leef.

We don’t go on pilgrimages regularly anymore – however “going a pilgrimage” has become something of a fashion recently. Perhaps this can help us rediscover our lives as journeys of discernment. But I want to make a different suggestion, because most of us do not have the time nor the money to go on pilgrimages.

Ons gaan deesdae nie meer gereeld op pelgrimstogte nie, hoewel “om op ‘n pelgrimstog te gaan” deesdae wel ‘n mode geword het. As “reise van onderskeiding” kan dit ons dalk help om ons lewens te herontdek.
Omdat meeste van ons nie die geld of tyd het om op pelgrimstogte te gaan nie, wil ek tóg ‘n ander voorstel maak. Laat ons eerder leer om, soos in die psalm, liedere van verlange te sing; liedere van versugting na ‘n plek waar ons by God tuis kan voel. Ons het sulke liedere nodig in ‘n gebroke en deurmekaar wêreld, ‘n wêreld waarin die rykdom van die minderheid sterk kontrasteer met die meederheid wat sterwend van die honger, in erge armoede leef. Dit is ‘n wêreld waarin die oorvloedige hulpbronne wat deur ons Skepper voorsien is uitgebuit word tot daar niks behalwe ‘n dorre en verlate woesteny oorbly nie. In so ‘n wêreld word die tegnologie wat ons ontwikkel het om ons lewens te vergemaklik, gebruik om ander seer te maak, belas dit hulle met toenemende haat, geweld en uitsluiting. Laat ons leer om te sing in opstand teen só ‘n wêreld. Laat ons sing van ‘n ander wêreld waarin mense ‘n veilige tuiste vir hulself en hul kinders kan skep, waarin hulle hul eie lewens volgens hulle gawes en talente kan vorm en kan meewerk om die huidige wêreld te herbou tot ‘n plek waar alle wesens veilig kan leef.